DIE GESONDHEIDSGESIN
Dankie dat jy ons webwerf besoek. Ek is Jan en die liefde in my lewe is Jua. Indien jy op soek is na daardie "gesonde leefstyl " help ons jou graag. As jy oorgewig is, en "dieet" al vir jou 'n lelike woord geword het, wil ons jou ook graag help om volhoubaar te verslank.
Gewig, goeie gesondheid en lewenskwaliteit is onlosmaklik aan mekaar verbonde. Dit, tesame met geestelike en emosionele welsyn, vorm die grondslag vir 'n gelukkige en voorspoedige totale mens-wees.
Uiteindelik besef ons dat die Evangelie en die beloftes van alles in oorvoed wat daarmee saamgaan, vir die hele mens bedoel is. Ons Skepper se bedoeling is dat Sy kinders nie net geestelik nie maar ook fisies, verstandelik, emosioneel en psigies gelukig en gesond moet wees.
"GESONDE LEEFSTYL" EERDER AS "DIEET" of "GEWIGBEHEER"
Oorgewig is 'n reuse probleem in ons samelewing.
Die term "Verslank" bring uiteenlopende persepsies en emosies na vore. Aangesien alle mense nie eenders gebou is nie, behoort die klem egter eerder ter wille van goeie gesondheid op afmetings en op 'n "gesonde leefstyl" as op "dieet" of "verslanking" en "oorgewig" te val.
Baie van ons is huiwerig om ons oorgewig status te erken.
Die probleem strek egter baie verder as wat oor die algemeen besef word: oorgewigprobleme verrineweer verhoudings, gesinne, selfbeeld, gesondheid en lewenskwaliteit.
Daarom is dit belangrik om die saak holisties te benader. Aandag moet eerder aan gesondheid en 'n gesonde leefstyl as aan voorkoms en oorgewig gegee word. Tekortkominge by al die fasette van mens-wees wat op gesondheid 'n invloed uitoefen moet sinvol aangespreek word. As dit gebeur sal gewig, of eerder afmetings, gewoonlik self regkom.
Verslanking en goeie gesondheid word 'n werklikheid wanneer ons leer om al die fasette van ons lewens reg te bestuur.
'n Nuwe, gesonde leefstyl is egter nie iets wat oornag gebeur nie. Dit word ook selde deur iemand in isolasie bereik. Daarom wil ons jou nie alleen die stryd laat stry nie. Ons wil jou graag so begelei dat jy sal leer hoe om aandag te gee aan die volgende aspekte, omdat dit jou hele lewe sal verander:
- Jou verhoudingslewe
- Jou eetgewoontes
- Oefening
- Sinvolle en gebalanseerde voedselaanvulling
Oorgewig gaan ook dikwels gepaard met ongesonde cholesterolvlakke. Kontak ons en vertel ons daarvan. Daar is vir jou sinvolle en beproefde raad.
Ons belewenis
Ek en Juanita het in die negentigs ons leefstyl op verskeie terreine aangepas. Groot was ons vreugde toe die kinders en kleinkinders ons voorbeeld volg. Almal geniet die voordele van ons gesonder leefstyl:
1. Ons afmetings (gewig ook) is korrek en dit bly stabiel.
2. Ons energievlakke en ons algemene gesondheid is nou beter as toe ons bykans twintig jaar jonger was.
3. Besoeke aan dokters en die gebruik van medikasie is 'n rariteit.
4. Besparings op ons mediese fonds hoop so op dat krediete soms aan ons terugbetaal word.
5. Ons geniet die beter lewenskwaliteit van die afgelope twintig jaar terdee.
Ons wil jou graag sinvol bedien met riglyne wat vir ons werk. Dit kan ook vir jou lewensveranderend wees.
Terselfdertyd wil ons graag 'n langtermyn verhouding met jou begin, sodat ons in vertroue en met vrymoedigheid kan gesels oor gesondheid, verslanking, gewigbeheer, eetgewoontes en ander dinge wat saak maak al gaan ons mekaar dalk nooit op persoonlike vlak ontmoet nie.
Waarom gee ons om? Omdat ons soveel onverdiende genade ontvang dat ons nie anders kan as om iets daarvan ook aan ander oor te dra nie. Dit gee aan ons onbeskryflkie vreugde as ons 'n positiewe verskil in iemand se lewe kan maak.
Omtrent ons
Ek het die eerste lig op 1 April 1943 gesien en Juanita is op 9 April 1946 gebore. Ons is op 11 Desember 1971 getroud en is geseën met twee dogters, daarna twee seuns en tot dusvêr vyf kleinkinders uit die dogters se huwelike.
Ons geniet die matige klimaat van die skilderagtige Barberton aan die voet van die Platorand van Mpumalanga. Van hier af reis ons so dikwels as moontlik na nabygeleë Mosambiek waar ons langs ongerepte tropiese strande ontspan. Oppad na en by ons boskamp bou ons aan verhoudings met die vriendelike maar arm landelike bevolking.
Een van ons passies is om goeie gesondheid te geniet en om dit ook by ander aan te moedig, omdat ons glo dat ware lewensvreugde saamhang met goeie verhoudings en diensbaarheid.
Omtrent jou
Neem asseblief vrymoedigheid, as jy wil, om dit wat vir jou belangrik is met ons te deel. Ons sal die voorreg koester en geen inligting van jou aan enigeen oordra nie. Hoe meer ons egter van jou af weet, hoe beter kan ons jou bedien.
Indien jy verkies om anoniem te bly, sal ons jou keuse respekteer en jou steeds na die beste van ons vermoë ondersteun.
Vertel ons met vrymoedigheid as daar iets is waarmee ons jou kan bystaan. Lees die nuusbrief oor verslank.net se nuwe rigting in ooreenstemming met die boek Handelinge by Nuusbriewe/Verhoudings.
Die Oorgewigprobleem
Die koorsagtige tempo en hoë verwagtinge van die moderne leefstyl veroorsaak dat gewigbeheer, verslanking, dieet en goeie gesondheid alte dikwels 'n groot maar ontwykende uitdaging bly.
Oorgewig, wat gewoonlik gepaard gaan met verkeerde eet- en oefengewoontes, gee aanleiding tot baie van die grootste en gevaarlikste gesondheidsrisikos van die hedendaagse samelewing.
Ons glo dat eenvoud die sleutel is tot effektiewe verslanking, beter lewenskwaliteit en blakende gesondheid. Hierdie beproefde, eenvoudige en praktiese benadering stel jou bekend aan 'n leefstyl wat jou kan help om altyd slank en gesond te bly, goed te lyk en goed te voel.
Klik asb. op die skakels links bo om na die spesifieke verslankingsonderwerpe, wenke en nuusbriewe te kyk. Kontak ons vir inligting oor veilige en doeltreffende gewigbeheerhulpmiddels.
Ons sal ook graag vir jou pasgemaakte leefstylaanpassings aanbeveel, spesifiek ontwerp vir jou eie, unieke omstandighede en behoeftes. Dit alles kan so lewensveranderend wees dat dit baie van jou prioriteite kan verander. Jy mag selfs besluit om oor te slaan na 'n nuwe, opwindende, onbeperkte en lewenslange bron van passiewe inkomste wat jy genereer deur ander te help om ook hulle doelwitte te bereik.
Watter aspek van beter lewenskwaliteit jy ookal nastreef, ons wil jou graag help, aanmoedig en toejuig! En as daar enige eer en dank voortspruit, kom dit alles die Here toe wat ons deur onverdiende genade tot alles in staat stel.